top of page
Kop.png

Gemeenteprofiel: Nylstroom-Oos gemeente is geleë in ʼn “middel-grootte” plattelandse dorp (Nylstroom/Modimolle) in die Limpopo provinsie, ongeveer 130 km noord van Pretoria. Die dorp bied goeie koopgerief aan inwoners, maar met ʼn kleiner verskeidenheid as in die stad. Die dorp het twee redelik groot winkelsentrums, verskeie winkels en goeie skole, (ook ʼn CVO skool en verskeie voorskoolse sentrums) waar kinders hoë kwaliteit onderrig ontvang (die na-skoolse kwalifikasies wat kinders uit hierdie skole behaal, bevestig die kwaliteit van onderrig). Hier is onderskeidelik ʼn enkelmedium Engelse- en ʼn Afrikaanse laerskool asook ʼn parallelmedium hoërskool.

 

Die gemeente word deur twee leraars bedien. Die “ruggraat” van bediening geskied deur middel van omgeegroepe en gawe-gerigte diensgroepe. Verder is die gemeente baie gesteld om verhoudinge tussen lidmate te bou en te versterk. In hierdie verband speel gereelde huisbesoek deur die leraars ook ʼn groot rol.

 

Nylstroom-Oos is ʼn gemeente met ongeveer 955 belydende lidmate en 241 dooplidmate.  Ons gemeente bied geleenthede vir lidmate om deur die loop van die jaar aktief aan verskeie aksies en byeenkomste deel te neem.
 

Leraarsprofiel: Nylstroom-Oos nooi dinamiese, energieke en gedrewe gelegitimeerde leraars van die NG Kerk, om aansoek te doen as medeleraar. Die bereidheid en vermoë om in ʼn leraar-span te werk, is ʼn ononderhandelbare vereiste. Verder sal die geestelike bediening aan kinders ʼn belangrike deel uitmaak van die applikant se bediening (die Abraham Kriel Kinderhuis val binne die gemeentegrens).

 

Pligte word omskryf in Artikel 9 van die Kerkorde, met die fokus op:

 

  • ʼn Lewende, persoonlike verhouding met God Drie-enig en dit as ʼn roeping beskou om in Sy diens te staan.

  • Woordgetroue, inspirerende en verstaanbare prediking, verbind aan die Gereformeerde Leer en Belydenisskrifte van die Kerk.

  • ’n Energieke persoon met ’n passie vir God en sy mense, asook ’n mense-mens wat met alle generasies ’n goeie verhouding kan bou en handhaaf, veral ten opsigte van huisbesoeke en persoonlike kontak met lidmate in verskillende lewensstadiums.

  • Entoesiasties en ervare is rondom die kreatiewe gebruik van musiek, vernuwende tegnologie en sosiale media as bedieningshulpmiddels.

  • Goeie interpersoonlike vaardighede hê en gemaklik in spanverband kan funksioneer.

  • Moet verantwoordelikheid vir projekte saam met diensgroepleiers kan neem asook inisiatief kan neem met nuwe projekte en geestelike bedieningsgeleenthede.

 

Vergoeding: Vergoeding sal redelikerwys volgens sinodale riglyne bepaal word. Behuising in ’n ruim pastorie is beskikbaar.

Aansoeke: Belangstellende, gelegitimeerde leraars, 55 jaar en jonger (verkieslik), moet asseblief ‘n toepaslike CV, van nie langer as vier bladsye, met vermelding van bedieningsvoorkeure, persoonlikheidskenmerke, spiritualiteit en bedieningservering stuur na die Kantoorbestuurder by kerkkantoor@ngoos.co.za

Sluit asb die volgende in:

  • Minstens 3 kontakbare referente (die kerkraad behou die reg voor om persone addisioneel tot die referente lys te kontak)

  • ʼn Skakel na aanlyn eredienste.

 

Navrae kan gerig word aan die voorsitter van Diensverhoudinge, Gert Kruger, by 076 930 8576 of Deirdré Stoffberg 073 411 6944 (Kantoorbestuurder)

 

Daaropvolgende proses:

  • Daar sal van alle aansoekers verwag word om ook ʼn toepaslike vraelys te voltooi, wat deur die Kantoorbestuurder per e-pos aangestuur sal word met ontvangs van die aansoek.

  • Sluitingsdatum vir aansoeke: Vrydag 7 Februarie 2025, 12:00

  • Keerdatum vir ontvangs van voltooide vraelyste: Vrydag 14 Februarie 2025, 12:00

 

  • Die Diensverhoudinge kommissie sal so spoedig moontlik ná 14 Februarie 2025 met elke applikant kontak maak.

  • Diensaanvaarding: 1 April 2025, of soos onderhandel.

 

Die kerkraad behou die reg voor om nie te beroep nie.

Indien u enige foute of probleme het met/op die webwerf, stuur asseblief 'n e-pos aan die webmeester. Kliek op die ikoon hier onder.

Besoekers aan ons webwerf

 © NG Nylstroom-Oos
bottom of page